Landbou Boerekos is ‘n kostydskrif wat jou beste vriend in die kombuis gaan word. Tussen die blaaie van ons eerste uitgawe kry jy alles wat jy nodig het vir ‘n bobaas-braai, en die lekkerste padkosstories en resepte vir aandete. Ons gesels ook met ‘n paar boere oor hul bedrywe en produkte - van lietsjies tot Karoolam
Landbou Boerekos
DIE DINGE WAT ONS SAAMBIND • ’n Oomblik in die hartjie van die Vrystaat was opnuut ’n herinnering aan die manier hoe herkoms, gedeelde tradisies en geliefde familieresepte ons aan mekaar bind.
Só sê ons lesers • Ons winteruitgawe, en veral die onthoustories oor die nostalgiese geure en smake uit ons ma’s se kombuise, het ons possak laat bult van jul briewe. Ons deel graag ’n paar.
HAELGEWERE, VERBODE DISSE & HEERLIK EET • Ek beland heel toevallig in die 3 200 jaar oue Noord-Italiaanse stad Brescia, aan die voetheuwels van die Alpe. Die stad se handelskamer nooi ’n klompie Suid-Afrikaanse joernaliste om die stad se befaamde wapenbedryf te besoek. Niemand anders kan die reis meemaak nie en ek gaan noodgedwonge. Dié besoek sal my lewe verander – nie die wapens nie, maar eerder die kos.
Maakdiesomer EKSTRA SOET • Sorg dat daar hierdie somer altyd iets soet en tuisgemaak in jou yskas of koekblikke is met ons resepte vir die lekkerste yskasterte en vinnige koekies en beskuit. Ry dan saam na Ermelo, waar ’n tuisnywerheid al 55 jaar lank ’n baken op dié Hoëveldse dorp is, en ontmoet die vroue en mans wat met hul kreatiwiteit, harde werk en kilogramme botter en suiker sorg dat Tuiskoop se rakke kreun onder allerhande heerlikhede!
YSKASTERT 17 goue gunstelinge • Noem dit maar crimplene-cuisine as jy wil, maar yskastert is so tuis in Suid-Afrikaanse huise soos braaivleis en Springbokrugby. Hierdie soet, koel lekkernye wat meestal aanmekaargeslaan word met ’n blikkie kondensmelk, ’n pakkie jellie en ’n hand vol koekies vir die kors, is onlosmaaklik deel van die boerekoskultuur.
Laat dit STOL sonder sukkel • Daar is ’n paar bestanddele wat jy kan inspan om yskasterte mee te laat stol, maar gelatien word meestal gebruik. Dié produk het ’n intimiderende reputasie en baie huiskokke is huiwerig om daarmee te werk. Hier is ’n paar maklike wenke om te verseker dat resepte met gelatien jou nooit weer ore aansit nie!
KOEKIES & BESKUIT - maklik in een pan • Dis nie somervakansie as daar nie ’n paar blikke koekies, beskuit of ander tuisgemaakte soetgoed regstaan vir peusel nie. Vanjaar is die wagwoorde maklik en vinnig – al die resepte is ontwikkel om in ’n bakplaat of oondbak van standaardgrootte te pas. Geen deeg hoef uitgerol of gevorm te word nie, alles word sommer in een pan gebak en opgesny voor jy die koekblikke volmaak.
Van melktert tot miljoenêrskoek • Toe dit in 1970 moeilik gaan op plase in die Ermelo-distrik, het ’n groep dinamiese boervroue hul moue opgerol om ’n inkomste te verdien uit hul gebak en groentetuine by die nuutgestigte Tuiskoop-tuisnywerheid. Dis nou 55 jaar later en steeds help Tuiskoop se miljoenêrskoeke, boerbeskuit, vlakoekies en naaldwerk om rekeninge te betaal en kinders deur die universiteit te sit.
Smulkos vir luilekker SOMERSDAE • Dié tyd van die jaar wil almal kosmaak sonder fieterjasies of lang lyste bestanddele. Ons wil braai, piekniek hou en buite eet. So, steek die vuur aan en verlustig jou in ons moeitevrye idees vir somerkos.
BROODJIES om te braai • Suid-Afrikaners se liefde vir braai is alombekend, maar jy hoef nie altyd vleis op die kole te gooi om jou braailus te blus nie. Probeer ’n paar heerlike vulselkombinasies van regoor die wêreld vir broodjies om te braai – jou familie en vriende sal hul vingers aflek!
Eetuitdiesee • Sonnige somersdae en seekos gaan perfek saam. Probeer een van die vinnige, moeitevrye somerse seekos-etes uit ons toetskombuis.
Vakansiekos •...