Suid-Afrika se voorste reistydskrif is enige buitelewemens se paspoort tot bekostigbare bestemmings en blyplek in Suidelike-Afrika. Elke uitgawe is volgepak met puik foto’s en gesaghebbende stories oor interessante mense en plekke (en wat om daar te doen). Kamp, voetslaan, fotografie, toerusting, kos, die langpad, en avontuur is ook deel van Weg se DNS. En omdat ons nie freebies aanvaar nie en self vir alles betaal, weet lesers hulle kan ons inligting vertrou. Of jy wil wegbreek vir die naweek of ’n lang vakansie, jou reis begin hier...
BRIEF VAN DIE REDAKTEURS
Weg!
KYK HIER!
Die getye van herinnering • Om na ’n kampplek uit jou kinderdae terug te keer maak allerhande gedagtes los, skryf Elzanne Coetzee ná ’n familievakansie by Stywelyne naby Velddrif.
’n Hartsplek soos min • Die Sederberg het verlede somer onder kwaai veldbrande deurgeloop. Nadat die roet gaan lê het, is Justin Fox soontoe vir ’n sielvolle meander van noord na suid deur dié merkwaardige landskap.
Die wêreld in volkleur • Namakwaland se blommeseisoen sorg elke jaar vir ’n skouspel. Heléne Venter neem al die afgelope paar dekades foto’s van dié deel van die Noord-Kaap en nou het sy ’n nuttige gids saamgestel waarmee jy jou eie blommetoer kan beplan!
In die Koninkryk van Koingnaas • Weet jy waar is Koingnaas? Indien wel, het jy al waarskynlik vir Dudley Wessels ontmoet. Jacques Marais het hom in 2015 leer ken en is sedertdien al verskeie kere saam met hom die veld in.
Verlief op Langebaan! • Dié gawe Weskusdorp is minder as twee ure se ry van Kaapstad af. Nazreen Essack beskryf haar ideale plan vir ’n naweek op Langebaan.
Valle en poele vir elke seisoen • Van seisoenale watervalle in die berge naby Vanrhynsdorp tot versteekte snorkelpoele naby Strandfontein – hier is Jacques Marais se gunsteling-wateravonture in die streek.
Spaan ’n bietjie uit • Ná ’n kort ent se kajakroei rondom Kaap Columbine naby Paternoster reken Toast Coetzer hy is gereed vir ’n langer roeitog.
Van Eva, voëlmis en ’n slagveld • Die geskiedenis het gemaal en gedeel in die plekke wat ons vandag as Langebaan, Saldanhabaai en die Weskus- nasionale park ken. Justin Fox toer terug in tyd na noemenswaardige gebeurtenisse wat hier afgespeel het.
Diep kant in! • Om tuna in die diepsee aan die Kaapse kus te vang is groot sports, maar jy moet murg in jou pype hê. Jac Kritzinger en sy kamera was saam op ’n visvangekspedisie.
Bly Hier • SPESIALE AKKOMMODASIE-AFDELING
Ruimte vir rus • Kom reis saam deur die oostelike dele van die Sederberg na die grootse Matsikammaberg naby Vanrhynsdorp, en volg dan die Olifantsrivier na die see. Jacques Marais reken jy gaan oral saans onder mooi sterre kan sit, met goeie mense aan jou sy.
Sout, son en sielerus • Turkoois water, ’n fynbosryke nasionale park en die gasvryheid waarvoor die Weskus bekend is – Justin Fox deel sy gunstelingselfsorgplekke langs die Langebaan-strandmeer.
BRIEF UIT Darling • Soms is dit ’n goeie ding om ’n verkeerde afdraai te neem, skryf Biénne Huisman uit die Swartlandse dorpie Darling.
Onder die radar